Improving the lives of older people
and their carers by transforming the
communities in which they live and work"

Boekoorsig: REMEMBER

Remember BookREMEMBER

Geskryf deur: Karen Kingsbury en Gary Smalley

Gepubliseer deur: The Smalley Publishing Group, 2003

Boekoorsig saamgestel deur: Lozaun Rust en Sanet du Toit

 

Die boek REMEMBER handel oor Ashley Baxter, ‘n vrou wat deur die loop van omstandighede vergeet het hoe om lief te hê en om te gee.  Sy besluit om by Sunset Hills, ‘n tehuis vir bejaarde persone, te werk om sodoende die mure om haar hart af te breek.

Hier maak sy kennis met ‘n dief.  ‘n Dief wat mens elke dag van jou herinneringe beroof.  Herinneringe van jou jeug, herinneringe van jou man, jou kinders, jou hele lewe en herinneringe van wie jy was en wie jy is.  En elke dag los hierdie dief iets agter wanneer hy jou klaar gestroop het van al jou kosbare oomblikke in jou verlede.  Hy los jou met angs, verwardheid en vrees.  Hierdie dief word Alzheimers genoem.

Jy ontmoet hom in die oë van jou ma wat jou nie meer ken nie, soos in die geval van Helen, wat haar dogter Sue nie herken en wegjaag wanneer sy kom kuier.  Jy ontmoet hom in die oortuiging van ‘n vrou wat glo haar man het gaan visvang en enige oomblik terug gaan wees – soos in die geval van Irvel, wie se man al 15 jaar oorlede is. Jy ontmoet hom in ‘n vrou se angsgille elke keer wanneer sy in die spieël kyk en dink sy sien ‘n heks, soos in die geval van Edith wat ‘n model was in haar jeug.  Jy ontmoet hom in die ongeduld en minagting waarmee versorgers sy slagoffers behandel, soos in die geval van Belinda wat vir Irvel aangerand het (omdat sy aanhou vra het wanneer haar man van sy visvang uitstappie gaan terugkeer).  En laastens ontmoet jy hom in die pyn en hartseer van geliefdes wat magteloos moet toekyk hoe hy stukkie-vir-stukkie hul ma; pa; vrou; man; ouma; oupa; broer; suster afbreek.

REMEMBER gee ‘n goeie weerspieëling van die uitdagings van Alzeimers en die effek wat dit op mense het wat daarmee gekonfronteer word.  Maar alhoewel bostaande beskrywing fokus op baie van die uitdagings wat veral na vore kom wanneer ‘n persoon met Alzheimer se siekte in ‘n versorgingseenheid woon, bring dit ook nuwe insigte na vore. Die boek lê veral klem op die feit dat Alzeimers nie ‘n persoon mag definieer nie en dat menswaardigheid, geduld, simpatie, respek en liefde die sleutel tot voortgesette positiewe verhoudings is. Dit bevat wonderlike voorbeelde van hoe Ashley die inwoners beter leer ken en respek aanleer vir die realiteite waarmee elkeen daagliks gekonfronteer word. So bou sy goeie verhoudings op en dra by tot menige inwoner se ervaring van lewensvreugde.

 

Leave a Reply

Be the First to Comment!

Notify of
avatar
This site is best viewed in Internet Explorer 9 or higher.